Geskiedkundige ooreenkoms verseker blink toekoms vir Zoetendal Akademie

BREDASDORP / KAAP AGULHAS – Die toekoms van die leerders van Zoetendal Akademie lyk vanjaar helderder as ooit tevore na ’n geskiedkundige mylpaal op 29 Julie 2026 amptelik bereik is. Ná ’n jaar van intense onderhandelinge, noukeurige beplanning en die opstel van kontrakte, is die grondoordrag tussen die Kaap Agulhas Munisipaliteit en die NPO van Zoetendal Akademie finaal bekragtig.

Die ondertekening van hierdie ooreenkoms lui ’n nuwe era van geleenthede in vir die skool, die leerders en die wyer gemeenskap van die Kaap Agulhas-streek.

Die skoolhoof van Zoetendal Akademie, mnr. André Cruywagen, het die historiese dokumente namens die skool geteken en sy diepe dankbaarheid teenoor die munisipaliteit uitgespreek. “Hierdie is nie net ‘n oordrag van grond nie; dit is ‘n belegging in die jeug, ons onderwys en die toekoms van ons hele gemeenskap. Die moontlikhede wat nou vir ons skool en ons leerders oopsluit, is werklik legio,” het Cruywagen gesê.

Hierdie geleentheid beklemtoon die Kaap Agulhas Munisipaliteit se uitstaande toegewydheid tot gemeenskapsontwikkeling en goeie plaaslike bestuur. Deur hierdie projek aan te gryp en te ondersteun, het die munisipaliteit hulself opnuut bewys as visioenêre leiers wat die welsyn en opvoeding van die streek se kinders eerste stel.

’n Spesiale woord van dank word gerig aan mnr. Wessel Rabbets, die Munisipale Bestuurder, wie se uitsonderlike leierskap, bereidwilligheid en dinamiese benadering deurslaggewend was om hierdie ooreenkoms oor die wenstreep te kry. Sonder sy visie en leiding sou hierdie droom nie werklikheid kon word nie.

Ewe veel dank is verskuldig is aan mnr. Derek Burger, wat as dryfkrag agter die skerms opgetree het. Sy onvermoeide werk, toegewydheid en deurlopende ondersteuning gedurende die afgelope jaar het gesorg dat die projek met sukses deurgevoer is.

Met die grondoordrag nou amptelik in bereik, kyk Zoetendal Akademie met opgewondenheid uit na die pad vorentoe. Die uitbreidings- en ontwikkelingsgeleenthede wat hierdie grond sal bied, gaan ’n blywende, positiewe impak hê op generasies leerders wat nog deur die skool se deure sal stap.

Die samewerking tussen Kaap Agulhas Munisipaliteit en Zoetendal Akademie dien as ’n glansvoorbeeld van hoe plaaslike regering en onderwysinstellings hande kan vat om ’n blywende erfenis en ’n veilige, vooruitstrewende omgewing vir ons jeug te skep.

Scroll to top