Proe-Aand ‘n reuse sukses!

Die jaarlikse Zoetendal Akademie Proe-Aand wat op Saterdag, 3 Augustus 2024, by die Struisbaai Dienssentrum plaasgevind het, was ‘n reuse sukses. Deelnemers en gaste het die aand terdee geniet, met elke klasgroep wat spoggerige disse uit ses verskillende lande voorgesit het. Die kos was soos altyd uit die boonste rakke, en die atmosfeer was lewendig en feestelik.
Ons graad 2 en 3 groep met die Brasiliaanse tema het met die eerste prys weggestap. Frankryk, graad R en RR, het in die tweede plek geëindig, en Marokko, graad 7, het die derde plek behaal. Hierdie kulinêre ervaring het gaste op ‘n reis om die wêreld geneem en het sommer die smaakpapille geprikkel.
Die aand is verder gekenmerk deur ‘n suksesvolle veiling wat groot belangstelling gelok het. Die lewendige gehoor het gesorg vir opwindende bod-oomblikke, en uiteindelik is ‘n indrukwekkende bedrag van R49 976.00 ingesamel. Hierdie fondse sal aangewend word vir die ontwikkeling van die skool en sportgronde, wat verseker dat Zoetendal Akademie voortgaan om ‘n omgewing van uitnemendheid vir sy leerders te skep.
‘n Spesiale dankie gaan aan die beheerliggaam, ouers, personeel, leerders, gemeenskap, en ons borge vir almal se bydraes en harde werk. Die Proe-Aand was nie net ‘n viering van kos en kultuur nie, maar ook ‘n bewys van wat ons saam as gemeenskap kan bereik.
Ons sien reeds uit na volgende jaar se Proe-Aand en weet dat dit weer ‘n gebeurtenis van uitnemendheid sal wees!

Scroll to top