Opwindende Proe-Aand By Suiderlig Dienssentrum Ten Bate Van Zoetendal Akademie

Struisbaai – Die atmosfeer was elektries en die reuke was verleidelik tydens die onlangse Zoetendal Akademie Proe-Aand.Hierdie jaar se tema, “Straat-kosse van die wêreld”, het besoekers laat smul aan lekkernye van regoor die wêreld.

Met lande soos Mexiko, Indië, Thailand, Italië, Griekeland, Portugal en Spanje wat verteenwoordig is, het hierdie geurige aand ons smaakkliere verower. Kaartjies is uitverkoop en die saal stampvol. Gemeenskapslede en ouers het almal deelgeneem aan die veiling gedurende die aand en sodoende bewerkstellig dat ons ‘n baie goeie fondsinsameling gehad het. Dit was beslis ‘n suksesvolle geleentheid.

‘n Geweldige atmosfeer het geheers terwyl die L’Agulhas en Struisbaai gemeenskap saamgekom het. Hierdie twee pragtige dorpe het weer bewys dat hulle ‘n wonderlike gemeenskap is wat mekaar ondersteun. Ons is baie dankbaar vir hulle ondersteuning en entoesiasme.

‘n Spesiale woord van dank gaan uit na al die mammas wat hard gewerk het om van die aand ‘n sukses te maak. Hulle toewyding en passie is ‘n inspirasie vir ons almal. Sonder hulle sou hierdie geleentheid nie moontlik gewees het nie. Ons wil dan ook baie geluk sê aan ons Graad 1 en Graad 3 groepe, wie se tema Mexico was. Hulle het weggestap as die aand se oorhoofse wenners!

Ons wil ook graag ons borge en gemeenskapslede bedank wat betrokke was by die Proe-Aand. Sonder hul vrygewigheid en bydraes sou hierdie fondsinsamelingsprojek nie ‘n sukses kon wees nie. Ons waardeer die voortgesette ondersteuning en samewerking van ons gemeenskap.

Die Zoetendal Akademie Proe-Aand was nie net ‘n heerlike fees vir die smaakkliere nie, maar ook ‘n geleentheid waar ons gemeenskap kon saamkom en saam kuier. Dit is deur sulke geleenthede dat ons ware gees van samewerking en liefde vir ons gemeenskap kan vier.

Ons sien uit na die volgende opwindende projek en is dankbaar vir almal wat betrokke was. Saam maak ons ‘n verskil in die lewens van ons leerders en in ons gemeenskap.

Zoetie Groete!

Scroll to top